NARRATOR

Dit mag meer as ‘n soen van ‘n prinses kos om ‘n padda in ‘n prins te verander, maar volgens die evolusieteorie het amfibieë, byvoorbeeld paddas, regtig in soogdiere verander, prinse ingesluit.

Vandag word die evolusieteorie as ‘n bewese feit aanvaar, maar dit was nie altyd die geval nie.

Genesis is ‘n kortstondige blik op die misterie van die oorsprong van lewe en die heelal, die openbaring van ‘n allerhoogste Skepper aan ‘n gevalle skepping – ‘n waarheid wat deur min betwyfel is, tot ‘n eeu en ‘n half gelede toe ‘n amateur naturalis op ‘n ontdekkingstog gegaan en die wêreld geskud het met ‘n dwaalleer.

Terwyl hy die skroeiende lawabeddings van die Galapagos Eilande verken het, was Charles Darwin gefassineer deur die vreemde natuurlewe. Hy het opgemerk dat die reuseskilpaaie, wat geïsoleerd op verskillende eilande gewoon het, verskillende groottes en vorme gehad het, en het hom voorgestel dat, as genoeg tyd sou verloop en, die skilpaaie sou aanhou verander, hulle uiteindelik getransformeer sou kon word in iets heeltemal anders.

Dr. Richard Dawkins is Professor in die Openbare Begrip van die Wetenskap aan die Universiteit van Oxford. As outeur van verskeie topverkoper boeke, is hy ook een van Darwin se grootste voorstanders.

DAWKINS

Ek veronderstel dat die grootste misterie van lewe is om te verklaar waar die kompleksiteit van lewe vandaan kom. Kompleksiteit kan ook gelykgestel word aan inligting. Inligting is ‘n soort maatstaf van kompleksiteit. En die kompleksiteit van lewe is nie net gewone kompleksiteit nie, dit is ook aangepas. Lewende organismes is nie net kompleks nie, maar hulle doen goed. Hulle oorleef. Hulle doen alles in hulle mag om te oorleef, en hulle lyk of hulle goed ontwerpte masjiene is, masjiene ontwerp om te oorleef.

NARRATOR

Maar nie alle kundiges stem saam dat die kompleksiteit van lewe kon ontstaan deur die sameloop van ‘n klomp gelukskote nie. En ‘n groeiende aantal andersdenkendes bevraagteken Darwin se teorie. Dr. Michael Denton, ‘n molukulêre bioloog, is ‘n Senior Navorsingsgenoot aan die Universiteit van Otago in Nieu-Seeland. Hy beweer dat Darwinisme “‘n teorie in krisis” is, wat die sogenaamde “feit” van evolusie aanvaar, maar wat nie die veronderstelde transformasie van eenvoudige lewensvorme na meer komplekse vorme deur toevallige prosesse, kan verklaar nie.

DENTON

Ek dink nie die Darwinese evolusieteorie is naastenby die bewese feit wat baie bioloë voorgee dit is nie. Ek noem dit die groot kosmologiese of kosmogeniese mite van die 20ste eeu, en dit is ‘n siening wat ek nog steeds huldig. Ek dink nie enigiets wat ek in die biologiese wetenskappe gesien het en geen vordering in die wetenskap die afgelope 20 jaar wat ek gesien het, het my op enige manier van gedagte laat verander oor dit wat ek fundamenteel glo nie, dat Darwinisme ‘n onvoldoende verduideliking is.

NARRATOR

Darwin se idees is nou alledaagse wysheid, en dit word as ‘n bewese feit beskou dat eenvoudige lewensvorme oor miljoene jaar van geleidelike verandering ontwikkel het tot al die kompleksiteit en diversiteit van lewe soos ons dit vandag ken, sonder die ontwerp van ‘n almagtige Skepper.

DAWKINS

En die raaisel is natuurlik: waar kom al hierdie kompleksiteit vandaan, waar kom al hierdie inligting vandaan? Dit kan nie toevallig ontstaan nie. Dit is heeltemal ondenkbaar dat jy iets so kompleks soos ‘n voël kan kry, en so goed ontwerp soos ‘n voël, of ‘n mens of ‘n ystervark, wat bloot deur kans ontstaan het. Dit is absoluut onmoontlik. Want om vanuit niks te begin, vanaf geen kompleksiteit, geen inligting, tot die uiterste kompleksiteit van ‘n moderne lewende wese in een toevallige stap, kan eenvoudig net nie gebeur nie. Dit sou wees soos om ‘n dobbelsteen duisend maal te gooi en elke keer ‘n ses te kry. Dis buite die kwessie. Maar as jy ruimte laat vir ‘n bietjie geluk in enige gegewe generasie, en ‘n bietjie geluk in die volgende generasie, en ‘n bietjie geluk in die volgende generasie, en hierdie geluk stap vir stap vir stap laat opbou, kan jy vanaf enige graad van eenvoud werk na enige graad van kompleksiteit. Al wat jy nodig het, is genoeg tyd. So waar kom dit vandaan? Dit kom vanaf die geleidelik toenemende proses van evolusie deur natuurlike seleksie.

NARRATOR

Dit word in die moderne wêreld van die wetenskap algemeen aanvaar dat die eerste visse in ‘n oer-oseaan verskyn het, uit die water gekruip en amfibieë geword het. Amfibieë het in reptiele verander, en reptiele in soogdiere. Evolusioniste beweer dat ander reptiele hul skubbe verloor het, vere ontwikkel het en dat hulle begin vlieg het om voëls te word. Maar reptiele en voëls is baie verskillend. Reptiele het geen genetiese inligting vir vlerke of vere nie.

Om van ‘n reptiel na ‘n voël te verander, sou die toevoeging van ‘n groot hoeveelheid komplekse inligting vereis. Darwin het geredeneer dat, met genoeg geluk, die akkumulasie van genoeg klein veranderinkies selfs reptiele in voëls sou kon verander. Michael Denton sê dit kan nie gedoen word nie.

DENTON

‘n Mens kan ‘n klomp voorbeelde uit die biologiese wêreld aanhaal van dinge wat lyk of dit buite die bereik van daardie eenvoudige Darwinese meganisme val. Daar is dinge soos die long van die voël. Daar is die veer, daar is die amniotiese eier en bakteriese sweephaar. Ek bedoel daar is regtig ‘n groot aantal sisteme wat daardie unieke, soort kompleksiteit, soos ‘n horlosie, het wat jy in die natuur vind, waar, om die sisteem te laat funksioneer, jy A, B, C, D ensovoorts almal in plek nodig het, in die regte volgorde, voordat die ding sal funksioneer. Dit is baie moeilik om te verstaan hoe hierdie tipe goed verkry kon word deur ongerigte prosesse.

Neem byvoorbeeld die veer. Die vlugveer is ‘n baie komplekse struktuur van klein aaneengeskakelde hakies en baardjies wat die dele van die veer bymekaar hou, en dit is hierdie klein mikro-aanpassings in die veer wat die veer geskik maak vir vlieg, en Darwin se model van evolusie vereis dat die tussenstadiums ten volle funksioneel is, en ek kan my nie indink hoe jy tot sulke gevolgtrekkings kan kom sonder om deur strukture te gaan wat regtig nie in ‘n biologiese sin funksioneel is nie.

NARRATOR

Reptiele en voëls het ook heeltemal verskillende voortplantings- en asemhalingstelsels. In reptiele se longe gaan lug in en uit deur slegs een buis, wat doodloop in klein lugsakkies. Maar by voëls vloei die lug voortdurend deur die longe in een rigting, deur middel van ‘n komplekse stelsel van aaneengeskakelde lugsakke, wat met die hol bene verbind is. Darwiniste beweer dat reptiele se longe verander het in voëls se longe deur middel van ‘n klomp tussenstadiums. Maar Michael Denton sê dat halfgevormde longe nie sal werk nie, want die oorgangsvorm kan nie asemhaal nie. Enige tussenstadium sou die uitwissing van die spesie tot gevolg hê.

DENTON

Die long van die voël is ‘n voorbeeld, soos die lewende sel of soos die veer, van ‘n hoogs ingewikkelde sisteem, baie ineengestrengel, baie ingewikkeld, wat vir so ver ek kan sien, jy slegs kan insien dat dit kan funksioneer as jy daaraan dink as ‘n repiratoriese gasuitruilingstelsel, as die totale huidige struktuur en orde in plek is – een van die moeilikste voorbeelde in die natuur van ‘n hoogs komplekse stelsel, saamgestel uit ‘n hele klomp interaktiewe komponente, wat almal daar moet wees, soos hulle in elke enkele voël se long is, voordat dit kan funksioneer.

In die geval van die voël se long, is dit vir my ‘n baie moeilike saak vir Darwiniste om te verklaar, omdat ek bedoel, ek kan my nie indink hoe daardie tipe long en ander soortgelyke dinge, kon ontstaan as die resultaat van die opbou van klein, toevallige veranderinge nie.

NARRATOR

Vir eenvoudige lewensvorme om in meer komplekse vorme te ontwikkel, vereis ‘n massiewe inset van nuwe inligting. ‘n Mikrobe het omtrent twee boeke van vyfhonderd bladsye vol komplekse gekodeerde genetiese inligting op sy DNS. ‘n Mens het die ekwivalent van ten minste eenduisend boeke. Om ‘n mikrobe om te sit in ‘n mens, beteken jy voeg ‘n hele biblioteek vol nuwe inligting by. So waar kom hierdie nuwe inligting vandaan?

Professor Werner Gitt is ‘n spesialis in inligtingsteorie en ‘n direkteur by die Federale Instituut vir Fisika en Tegnologie in Brunswyk, Duitsland. Hy sê dat die evolusie van komplekse lewensvorme vanuit eenvoudiger vorme deur selektering van toevallige verbeteringe onmoontlik is, aangesien daar geen bron van nuwe inligting is nie.

WERNER GITT

Die grootste probleem met evolusie is die oorsprong van inligting. Waar kom die inligting vandaan? Dit is onmoontlik om van ‘n eenvoudige lewende wese te verander na ‘n olifant of ‘n mens. Dit benodig baie meer inligting, en inligting word nie verkry deur ‘n lukrake proses nie.

NARRATOR

Darwiniste sê dat die nuwe inligting van genetiese mutasies af kom wat van die een generasie na die volgende oorgedra word. Genetiese mutasies is toevallige foute, soos om ‘n fout maak wanneer jy ‘n teks oorskryf. Volgens evolusioniste word die gunstigste mutasies bewaar deur natuurlike seleksie.

DAWKINS

En dit is die molekulêre genetika wat uiteindelik die volledige getuienis verskaf, die absoluut onomstootlike getuienis waarteen niemand enigsins kan stry nie. Want die molekulêre getuienis bewyse toon werklik, met die detail van, net soos ‘n soort menslike teks kan jy die veranderende letters sien, die veranderende woorde van die DNS, wat inderwaarheid die anatomiese veranderinge beskryf soos wat die generasies verbygaan, wat al was wat Darwin self kon sien.

NARRATOR

Genetiese mutasies kom voor wanneer gene beskadig word, dikwels deur blootstelling aan bestraling of giftige chemikalieë. Party mutasies het geen effek nie, maar die meeste is skadelik en dikwels ook dodelik.

Alhoewel die meeste mutasies skadelik is, kan sommige mutasies voordelig wees. Darwiniste beweer dat evolusie plaasvind wanneer hierdie skaars voordelige mutasies deur natuurlike seleksie akkumuleer.

Die Galapagos Eilande is die “Vertoonkas van Evolusie”, waar die unieke natuurlewe deur internasionale wetenskaplikes bestudeer word. Die nie-vlieënde duiker word hier vir toeriste gewys as ‘n voorbeeld van evolusie deur middel van voordelige mutasie. Die Galapagos-duiker het die genetiese inligting vir vlerke verloor, en kan heel goed sonder vlerke swem en duik, wat ‘n voordeel kan wees. Die Galapagos toergidse verduidelik dat, weens hierdie oënskynlike voordeel, die nie-vlieënde duiker ‘n groter nageslag agtergelaat het, en sodoende, deur natuurlike seleksie, het dit oorleef, terwyl die ander voëls, met vlerke, uitgesterf het.

DON BATTEN

Nie-vlieënde duikers is inderwaarheid verswakte mutante, met ‘n verlies aan inligting vir die vorming van vlerke. Alle voorbeelde van mutasies is eintlik ‘n verlies aan inligting, selfs die gunstige mutasies. Daar is geen nuwe genetiese inligting nie. Sogenaamde voorbeelde van ‘evolusie-in-aksie’ is eintlik voorbeelde van variasie binne ‘n soort. Antibiotiese weerstand, weerstand teen insekdoder, pepermotte –hulle almal is voorbeelde van die herrangskikking van bestaande genetiese inligting, of verlies daaraan. Daar is geen nuwe genetiese inligting nie.

DENTON

As jy dit verwerp dat toeval, ongerigte toeval, ‘n verduideliking is vir biologiese verskynsels soos ons dit op die aarde sien, dan moet jy een of ander ontwerpshipotese hê – dit is die enigste beskikbare alternatief. Ek dink dat wanneer jy na die natuurwette kyk, en jy kyk na die kosmos, dan het jy hierdie twee konflikterende moontlikhede: jy het die moontlikheid van die bonatuurlike Hebreeuse God wat die wêreld geskep en al die natuurwette vir dié doel georganiseer het, of jy het die ander moontlikheid dat die heelal op een of ander wyse ‘n lewende geheel is, ‘n self-organiserende stelsel.

NARRATOR

By die Klaagmuur in Jerusalem aanbid ortodokse Jode die God van die skepping. Volgens Genesis is dit so beplan, en nie toevallig nie, dat ons bestaan. Die Israelse biofisikus, Dr. Lee Spetner, is uniek gekwalifiseer om kommentaar te lewer op die rol van mutasies in die evolusieteorie. Hy is ‘n spesialis in die fisika en wiskunde van inligting, en het die sein/geraas-verwantskappe in DNS nagevors as ‘n navorsingsgenoot aan die Johns Hopkins Universiteit. Hy het al artikels in toonaangewende tydskrifte oor teoretiese en wiskundige evolusionêre biologie gepubliseer. Hy glo die getuienis ondersteun die Bybelse weergawe dat God sekere basiese soorte geskep het, wat oor tyd gediversifiseer het soos wat dit by hul omgewing aangepas het.

LEE SPETNER

Ek glo werklikwaar nie dat die neo-Darwinese model rekenskap kan gee van grootskaalse evolusie nie. Wat hulle regtig nie kan verklaar nie, is die toename in inligting. Dit is baie onwaarskynlik dat daar ‘n klomp klein stappe van evolusie kan wees, met ‘n klomp klein veranderinge, wat bydra tot een groot verandering. Dit is nie net op ‘n wiskundige, teoretiese vlak onwaarskynlik nie, maar eksperimenteel het niemand nog ‘n enkele mutasie gevind waarna jy kan wys wat werklik inligting toevoeg nie. Inteendeel, elke voordelige mutasie wat ek al gesien het, verminder die inligting, dit verloor inligting.

NARRATOR

Australië se Koninklike Skou in Perth is dié plek om met jou rasegte diere te spog. As dit nie waargeneem kan word dat mutasies en natuurlike seleksie genetiese kompleksiteit laat toeneem nie, wat dan van kunsmatige seleksie? Selektiewe teling lei wel tot groot verskeidenheid, maar is daar perke aan die veranderinge?

DAWKINS

Charles Darwin self het ‘n groot gewag gemaak van die makmaak van diere. En ‘n goeie manier om hierna te kyk is om te sê, veronderstel dat jy ‘n eksperiment wil doen om inderdaad eksperimenteel te demonstreer dat hierdie proses van seleksie werk, wat sou jy doen? Wel, wat jy sou doen is jy sou sê, wel, dit sal my omtrent ‘n duisend jaar neem, maar gegewe ‘n duisend jaar, wat ek kan doen is ek kan in elke generasie dié eienskappe teël wat ek wíl kry. Dus, vir die volgende duisend jaar, wat ons gaan doen is om natuurlike seleksie in elke generasie na te boots deur dié individue vir teling te kies wat die eienskappe wat ons verkies, die beste vergestalt. So, as jy van ‘n wolf na ‘n Pekinees wil vorder in ‘n paar duisend jaar, dan moet jy daardie proses ekstrapoleer en sê hoeveel verder jy kan gaan in ‘n duisend miljoen jaar.

BATTEN

Jy kan vir duisende en miljoene jaar honde teel, maar as jy geen bron van nuwe genetiese inligting het nie, sal hulle nog steeds honde wees. Die probleem met evolusie is dat dit geen manier het, géén manier waarop nuwe inligting verskaf word nie. Beide natuurlike seleksie en teling, of kunsmatige seleksie, veroorsaak ‘n verlies aan genetiese inligting.

As ons ‘n langhaar hond neem en ons teel net met langhaar honde, en selekteer net die langhaar kleintjies en teel in die toekoms met hulle, dan het ons op die ou end ‘n soort hond waar al die gene vir langhaar honde in een soort gekonsentreer is. Maar dit beteken dat daardie hond nooit ‘n korthaar nageslag kan hê nie, want dit het nie gene vir kort hare nie. Dus het ons genetiese inligting verloor.

Natuurlike seleksie doen dieselfde. Kom ons neem wolwe, ‘n verskeidenheid wolwe voor die Ystydperk – langhaar en korthaar. En gedurende die Ystydperk veroorsaak die ekstreme koue dat al die korthaar wolwe uitsterf. Ons sit dan met ‘n nuwe variëteit wolwe, selfs ‘n nuwe spesie, met lang hare, wat aangepas is vir die koue toestande. Maar dit is weer eens aanpassing, en daar is geen nuwe genetiese inligting betrokke nie. Die proses veroorsaak inderwaarheid die verlies aan genetiese inligting vir kort hare.

‘n Groot verskeidenheid is moontlik deur middel van nuwe kombinasies van bestaande gene. Selfs mutasies kan die herrangskikking van bestaande chromosome veroorsaak, en van verswakkende veranderings, of ‘n verlies aan inligting, wat diversiteit meebring. Dit is ‘n fundamentele probleem. Beide mutasies en natuurlike seleksie lei tot ‘n verlies aan genetiese inligting. Daar is dus geen manier waarop evolusie van toenemende kompleksiteit kan plaasvind nie.

GITT

Dit is onmoontlik dat nuwe inligting van ‘n lukrake proses kan kom. Kyk na ‘n rekenaarprogram, dit benodig ‘n programmeerder. Kyk na ‘n motor, dit benodig ‘n ontwerper. As ons die biologiese inligting in selle sien, dan moet ons sê, dit is die regte slotsom, dit het ‘n skepper nodig wat die programme, die gene gemaak het, om die proteïene te skep, om die organe te skep. Dit is nodig dat dit oor hierdie dinge beskik. Ons kan dus sê dat evolusie ‘n onmoontlike proses is.

NARRATOR

Elke skoolkind leer die sogenaamde evolusie van die perd, van klein perdjies met veelvuldige tone tot groot, moderne, perde met een toon. Maar het die perd regtig evolusie ondergaan? Baie wetenskaplikes betwyfel dit.

BATTEN

Daar is baie verskillende soorte perde wat ons kan kry deur teling, maar hulle is nog steeds perde. Ons kan grotes, kleintjies en selfs perde met drie tone kry. Die evolusioniste het hierdie perde in ‘n soort volgorde geplaas, en ‘n fossiel van ‘n klipdassie aan die onderpunt bygesit, en beweer dit is getuienis vir evolusie. Maar neem die fossiel van die klipdassie weg, en dan het jy bloot variasie binne ‘n soort. Perde gee oorsprong aan perde. Dit is nie evolusie nie.

LEE SPETNER

Die inligting wat benodig word vir grootskaalse evolusie kan werklik nie van toevallige mutasies af kom nie. Die Darwinese model sê dat dit wel so is, maar niemand het nog ooit ‘n berekening gedoen wat aantoon dat dit so is nie. Ek het ‘n berekening gedoen wat wys dat dit níé so is nie.

NARRATOR

Professor Dawkins, kan u ‘n voorbeeld gee van ‘n genetiese mutasie of ‘n evolusionêre proses waar dit waarneembaar is dat inligting aan die genoom toegevoeg word?

DAWKINS

Dit was Prof. Dawkins se werklike reaksie. Hy het toe gevra dat die kamera afgeskakel word om hom tyd te gee om te dink, voordat hy die volgende ‘antwoord’ gegee het. Daar is ‘n algemene wanopvatting oor evolusie wat sê dat visse in reptiele verander het, en reptiele in soogdiere, en op ‘n manier behoort ons dus vandag om ons te kan kyk, en na ons voorouers te kan kyk, en ons behoort die tussenstadiums tussen visse en reptiele te kan sien, en tussen reptiele en soogdiere, ons behoort visse te kan sien wat soort van op pad is om reptiele te word, maar dit is natuurlik glad nie die geval nie. Visse is moderne diere. Hulle is net so modern soos ons. Hulle stam van dieselfde voorouers af as ons. Lank terug, driehonderd miljoen jaar gelede, sou daar ‘n voorouer gewees het wat die voorouer is van die moderne vis en die voorouer van die moderne mens. En daardie voorouer, as jy toe daar sou kon wees, sou jy die eerste stappe op pad na ‘n vis kon sien, ‘n vis wat uitkom op die land en iets soos ‘n amfibiër word. Maar dit was lank gelede. Jy sal nie verwag om vandag so iets te sien nie.

SPETNER

As ‘n mens die neo-Darwinese weergawe sou glo, sou jy moes sê dat inligting geleidelik opgebou word, in klein stappies, ‘n klein bietjie op ‘n slag. En as ‘n mens die wiskunde agter hierdie tipe gebeurtenis sou bestudeer, blyk dit dat ‘n mens moet aanneem dat op enige stadium in evolusie daar ‘n groot aantal moontlike mutasies is wat op enige stadium kan plaasvind, wat ‘n aanpassing teweeg kan bring. En as daar ‘n groot aantal is, behoort ons van hulle vandag te kan vind. En die feit is ons kry dit nie. Al die mutasies wat op ‘n molekulêre vlak ondersoek is, toon dat die organisme inligting verloor het, en nie bygekry het nie.

NARRATOR

Die Genesis-weergawe van die skepping impliseer dat byna alle genetiese inligting wat vandag bestaan, reeds in die oorspronklike soorte teenwoordig was. Dus, groot variasie is moontlik binne ‘n soort, maar een basiese soort kan nie in ‘n ander een verander nie. Michael Denton glo dat inligting slegs vanaf ‘n intelligente bron kan kom.

DENTON

Ek is geneig om te dink dat die getuienis ‘n almagtige Hebreeuse God van die Joods- Christelike tradisie impliseer. ‘n Eksterne Skepper het die wêreld geskape en dit sy orde gegee, sy patrone, sy grense. Ek dink dit strook met die getuienis. Dit strook daarmee.

DON BATTEN

Net soos wat die inligting in boeke van ‘n intelligente bron moet kom, so moet die enorme hoeveelheid genetiese inligting in lewende wesens ook van ‘n intelligente skepper af kom. Die getuienis pas in by die Bybelse model, waar daar ‘n groot hoeveelheid genetiese inligting in die begin geskep is, wat aanpassing binne ‘n soort toelaat, en wat sedertdien gedegradeer is. Die inligting moes in die lewende wesens ingeprogrammeer gewees het aan die begin. Lewende dinge het nie ontwikkel nie, hulle is geskep.

WERNER GITT

As ons na die Bybel kyk, dan sien ons daar is ‘n Skepper. Hierdie Skepper het alles gemaak – die materiële prosesse en ook die inligting.

NARRATOR

Evolusioniste glo dat komplekse lewensvorme van eenvoudiger vorme af kom, maar lukrake prosesse met natuurlike seleksie kan nie daarvan rekenskap gee nie, en dit is nog nooit waargeneem of herhaal nie. Daar is nog nooit aangetoon dat die akkumulasie van geleidelike veranderings deur blote geluk nuwe inligting toegevoeg of kompleksiteit laat toeneem nie.

Kreasioniste glo dat al hierdie getuienis na ‘n Skepper wys. Honde kan harig of glad wees en paddas kan kolle hê of groen wees, maar honde sal altyd honde wees en paddas altyd paddas. Selfs ‘n soen van ‘n prinses, sal nooit ‘n padda in ‘n prins verander nie.